"Hannes in Switserland? Kan dit wees? Hy was mos so lief vir Afrikaans. Ek skryf dadelik. Ja, dis hy!"

 

 

 

“Dap, ek moes tussen my land en my kind kies”.

 

 

 

 

 

 

"ʼn Filosoof het op ʼn keer gesê: ʼn Persoon met interessante herinneringe leef twee keer. Hannes Deetlefs leef meer as twee keer."

Biografie | Hannes Deetlefs

Voorwoord van Prof. Dr. Dap Louw

Dis Januarie 1953. Ek kan nie onthou nie, maar tipies van Suidwes moes dit ʼn warm dag gewees het. Maar dis nie belangrik nie. Wel baie belangrik is, is dat dit die Groot Dag is --- ek gaan skool toe! Emma Hoogenhout Laerskool in Windhoek, regoor die Alte Feste. Toe al die ouers weg is, staan ons bedremmeld voor ons klaskamer. My oog vang ʼn outjie met ʼn vriendelike gesiggie, so ‘Duits’ aangetrek. “Dis mnr Deetlefs, die Duits-onderwyser by die Hoërskool se seun”, hoor ek. “My naam is Hannes’, sê hy.
En in 2016 is ons steeds vriende.
Ongelukkig is ons nabye vriendskap vroeg in hoërskool onderbreek toe Hannes se pa hoof word van ʼn vooraanstaande Duitse hoërskool in Johannesburg. Maar ek het bly wonder wat van ou Hannes geword het. Na baie jare sien ek op ʼn dag ʼn brief wat in Afrikaans aan ʼn bekende Suid-Afrikaanse tydskrif geskryf is. Deur Hannes Deetlefs, „Ons Tuiste“, Harmonieweg 4, Lütisburg, Switserland. Hannes in Switserland? Kan dit wees? Hy was mos so lief vir Afrikaans. Ek skryf dadelik. Ja, dis hy! Hulle kom kuier. Ons gaan kuier. En saam kuier ons ʼn hond uit ʼn bos. Ons haal in op die baie ure wat onaangeraak gelê het. En, soos ons altyd in Suidwes gesê het, slaan ons saam ʼn paar murgbeentjies om die vuur uit. Maar ek sien ook ʼn weemoed-verlange in my ou maat se oë. En so mettertyd ontvou ʼn verhaal waaroor boeke geskryf en selfs films gemaak word: Hannes ontmoet vir Annemarie, ʼn Switserse toeris, in Suid-Afrika. “My droomvrou”. Hy gaan hou skool in Swakopmund en sy kry ook ʼn pos daar. Hulle trou in 1973. “My beker loop oor”. Toe die treurige nuus; hulle kan nie kinders hê nie. Besluit om aan te neem. Pragtige babadogtertjie, gebore op Republiekdag 1976, Christa Deetlefs. Die enigste „Republiekbaba“ wat nie in die koerante verskyn het nie. “Ons is in die Hemel”. Maar vinnig gebeur dit – in ʼn ras-en kleurbehepte Suid-Afrika en Suidwes: Christa se velletjie word al hoe donkerder en die haartjies krul al hoe meer. Die maatskaplike werkers kom baie dikwels ‘inspekteer’ en vind dit totaal onaanvaarbaar, hoewel dit hulle ‘fout’ was. En teen die wet. “Julle moet die kind vir ʼn blanke baba ruil’, sê hulle. Hannes skop vas: “Dis my kind, in my naam gedoop”. Annemarie kan as Switserse dame die opskudding hoegenaamd nie verstaan nie. Dis dan ʼn onskuldige kind – my kind. Wat het sy aan julle gedoen? ʼn Griekse tragedie speel hom af aan die suidwestelike deel van Afrika.
Die Deetlefs-gesin is by verward verby. Hulle word gekasty, ook deur vriende en familie. ʼn Dierbare familielid weier selfs om aan die kind te raak. Toe bars die emosionele bom. By ʼn restaurant is die eienaar adamant: “U, mevrou, is wit. U man kan as wit deurgaan. Julle kan dus inkom --- maar nie daai swart kind van julle nie.”
Die moeilike, maar logiese besluit: Hulle gaan Switserland toe. “Dap, ek moes tussen my land en my kind kies”. Sophie’s Choice.
In Switserland gaan dit moeilik: “Ek is die bont hond van die dorp”. Sy Suid-Afrikaanse kwalifikasies word nie erken nie, sy blanke Suid-Afrikanerskap word teen hom gehou. Dierbare Annemarie (wat steeds vandag Afrikaans vlot praat) moes die pot aan die kook hou.
Mettertyd begin die son weer skyn. Maar die heimwee lê vlak. Hy noem sy huis „Ons Tuiste“ en sy straatnaam is dieselfde in Afrikaans en Duits. Hy maak sy merk in die
gemeenskap. Stig ʼn groot ekonomiese Forum saam met die regering en is tien jaar lank president daarvan. Gaan doen gemeeenskapswerk in Albanië. Maar as ons vir hulle in hul skilderagtige omgewing gaan kuier, speel hy ons ou skoollied op die klavier en sing elke woord. En FAK liedjies. Terwyl die sneeu dik buite en op die pieke van die berge lê. Soos ons altyd in Suidwes net op tjoklit bokse gesien het. Dit is ʼn sekondekykie na Hannes Deetlefs, die skrywer van Boertjie. ʼn Man wat vashou aan sy geskiedenis, ʼn man wat glo dat ons nooit die verlede mag misken nie --- maar dwaas sal wees om nie daaruit te leer nie. Boertjie neem ons terug na Hannes se verlede en herkoms. Ek hoop dat Boertjie die voorloper sal wees tot ʼn boek oor sy eie lewe. ʼn Filosoof het op ʼn keer gesê: ʼn Persoon met interessante herinneringe leef twee keer. Hannes Deetlefs leef meer as twee keer.

En die skrywer self het die woord:

Hannes Deetlefs besig met sy stokperdjie, die bou van modelle van die Suid-Afrikaanse Spoorweë

Een van daardie Suidwes-winde het met stormsterkte vir my op ʼn triestige Sondag op 29 September 1946 in Lüderitz, destyds een van die “groot hawestede van Suidwes-Afrika” ingewaai. En die trein, wat eintlik teen nege uur die oggend op Saterdag al verwag is, het so herhaaldelik gefluit dat dit met groot sekerheid die eerste klank was wat ek gehoor het.
In Windhoek het ek in die Emma-Hoogenhout Laerskool klas gedraf en in die pouses “Anglo-Boereoorlog” teen die “Ingelse” skoliere gespeel, dikwels genoeg met die gevolg dat ons val- en bakleimerke van die pouse deur meester se lat nog ʼn toevoeging, gewoonlik “drie van die bestes”, aan merke gehad het.
My vader het 1960 skoolhoof van die baie groot Duitse Privaatskool te Johannesburg geword wat onder andere daartoe gelei het dat ek Matriek met drie A-Tale geslaag het.
Heel teen my sin is ek nie vir die weermag geloot nie en dit het dinge bietjie deurmekaar gemaak. Pa was teen die aanname van “enige vreemde geld of beurse”, want, so het hy altyd beweer, “dit maak jou net afhanklik”. My familie is toe 1964 terug na Swakopmund en ek moes maar my paadjie in Johannesburg self vind. Die gevolg was dat ek in die Departement vir Immigrasie in Rissik Straat Johannesburg as klerk begin werk het. Dit was ongelooflik vervelig. Ek is toe daar weg en het op my eie ʼn vakleerlingskap by ʼn bekende Duitse Firma as kameradeskundige deurloop. Hier het ek geleer wat ʼn honderdste Millimeter presies is.
Tye was egter moeilik en so het ek in Goudstad Onderwyskollege beland. En die geldjies daarvoor het ek eers elke Saterdag met die bestuur van vragmotors, later met die bestuur van busse elke oggend en aand verdien. Daar was nie geld of tyd vir “pub-crawls” of vir meisies nie, wat sekerlik ook ʼn seën of wat was.
Na Goudstad het ek toerbusse vir ʼn heel bekende firma vanaf Johannesburg na Durban en dan na Kaapstad en terug bestuur. Dit was dan altyd veertien dae met toeriste van die hele wêreld, heel opwindend. Een van die bates was dat ek daar die “nooientjie van my drome” gevind het.
Ek het daarom die toerbus-ryrery laat vaar en in Swakopmund begin skoolhou. Die Switserse dametjie het woord gehou en ons is daar 1973 getrou, en ons is vandag, na meer as veertig jaar, nog verlief. Aangesien ons geen kinders kon kry nie, het ons ʼn tien dae oue dogtertjie aangeneem. Ongelukkig het dit later gebleik dat sy nie wit is nie en toe was “die herrie los”. Op die ou einde het ons daarom maar ons goedjies gepak en Switserland toe gegaan.
In Switserland moes ek eers leer dat my diplomas glad niks werd is nie en ek moes van nuuts aanvang. Ook dit was ʼn moeilike tyd. Maar, ek het weer onderwyser geword en tot my aftrede in alle skooltipes onderrig, ook in beroepskole. En so tussenin het ek met kwaai studie Switserse diplomas vir klavierspeel en die bou van webwerwe verkry. Ek word nog altyd aangevra om skool te hou en sou volstoom ʼn groot klas vlugtelingkinders kon onderrig. Maar, ek verkies dit om liewer op my klavier klassieke musiek te speel of my stoomtrein in die tuin te laat rondry.